Taalgenoot-RUK EN RYM is oop vir enige klankskeppende kunstenaars wat alternatiewe musiek met Afrikaanse lirieke maak.
Inskrywings vir Taalgenoot-RUK EN RYM geskied deur ’n Google-vorm wat hier beskikbaar is.
Geen persone onder die ouderdom van 18 jaar mag aan Taalgenoot-RUK EN RYM deelneem nie.
Terwyl die organiseerders kennis neem dat kunsmatige intelligensie (KI) deesdae wyd ingespan word om musiek te redigeer, mag deelnemers nie musiek inskryf wat volledig of oorwegend deur KI geskep is nie. Dit sluit die instrumente/musikale begeleiding sowel as die stemme in. RUK EN RYM is ’n platform vir oorspronklike musiek, dit wil sê, musiek en lirieke wat deur mense geskep word. KI is ’n nuttige stukkie gereedskap wat onder andere gebruik kan word om klanke en effekte te skep en die doeltreffendheid van die produksieproses aan te help, maar die klem lê vir die doeleindes van Taalgenoot-RUK EN RYM op oorspronklike menslike uitdrukking. Daar word van semifinaliste verwag om hul musiek tydens die semifinale rondes lewendig ten toon te stel. As die keurpaneel navrae het oor die gebruik van KI in jou musiek, moet jy jou “working files” kan verskaf.
Groepe en kunstenaars word afgeraai om in te skryf met lirieke wat diskriminerende taal ten opsigte van geslag, ras, seksuele oriëntasie, geloofsoortuiging, ens. bevat. Sou sodanige taalgebruik in die lirieke voorkom, moet daar baie goeie artistieke regverdiging daarvoor wees.
Die keurders en beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal gedurende of na afloop van die kompetisie daaroor gevoer word nie.
Ten einde gelyke geleenthede vir alle deelnemers te verseker, sal geen persoon of groep wat op enige wyse aan die ATKV verbonde is voorkeurbehandeling ontvang in die beoordeling of uitslag van die kompetisie nie. Alle inskrywings sal uitsluitlik op meriete beoordeel word. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot werknemers van die ATKV, direkteure van die ATKV, kontrakteurs van die ATKV, ATKV-vrywilligers, of hul onmiddellike familielede, of deelnemers aan ander ATKV-projekte. Enige affiliasie met die ATKV sal nie ’n voordeel inhou tydens inskrywings, keuring of prysuitdeling nie.
Alle pryse wat in die RUK EN RYM-kompetisie toegeken word, is nie-oordraagbaar, nieverhandelbaar en mag nie in kontant of enige ander vorm omgeskakel word nie, tensy anders skriftelik deur die organiseerders bepaal. Pryswenners mag nie sy/haar/hul reg op die prys aan enige ander entiteit, persoon of groep oordra of toeken nie, ongeag bestaande of vorige verbintenisse met daardie persoon of groep. Slegs die spesifieke individu(e) of groep wat oorspronklik as wenners aangewys is en wie se naam/name as sulks aangeteken is, mag die prys opeis.
Deur die indiening van die inskrywingsvorm bevestig RUK EN RYM-deelnemers dat hulle kennis neem van die ATKV se artikel 18-kennisgewing op sy webtuiste (atkv.org.za) en toestem dat persoonlike inligting ingesamel mag word; en/of dat die indiening van die inskrywingsvorm bevestig dat die RUK EN RYM-deelnemers kennis dra dat die ATKV nié hoef te voldoen aan die verpligtings wat in artikel 18(1) van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting neergelê is nie; en/of dat die indiening van die inskrywingsvorm bevestig dat die ATKV spesiale persoonlike inligting, soos waarna verwys word in artikel 26 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, mag insamel.
Deur hul inskrywings en deelname onderwerp RUK EN RYM-deelnemers hulle aan die reëls soos wat dit deur die ATKV-MSW bepaal en hier uiteengesit is.
Die ATKV-MSW behou hom die reg voor om die kompetisie enige tyd te staak of beëindig indien buitengewone omstandighede dit noodsaak.
Taalgenoot-RUK EN RYM is ’n projek van die ATKV-MSW, en die ATKV-MSW se bepalings en voorwaardes geld vir die RUK EN RYM-kompetisie. Sien die ATKV-MSW se volledige bepalings en voorwaardes hier.